| Chapter 4 |
1 | En Hy het nog 'n maal by die see begin leer; en 'n groot menigte het by Hom saamgekom, sodat Hy in die skuit geklim en op die see gaan sit het, en die hele skare was op die land by die see. |
2 | En Hy het hulle baie dinge geleer deur gelykenisse en vir hulle in sy lering gesê: |
3 | Luister! 'n Saaier het uitgegaan om te saai. |
4 | En terwyl hy saai, het 'n deel langs die pad geval, en die voëls van die hemel het gekom en dit opgeëet. |
5 | En 'n ander deel het op 'n rotsagtige plek geval waar dit nie baie grond gehad het nie; en dadelik het dit opgekom, omdat dit geen diepte van grond gehad het nie. |
6 | En toe die son opgaan, is dit verskroei; en omdat dit geen wortel gehad het nie, het dit verdroog. |
7 | En 'n ander deel het in die dorings geval, en die dorings het opgekom en dit verstik; en dit het geen vrug opgelewer nie. |
8 | En 'n ander deel het in die goeie grond geval, en dit het vrug opgelewer; want dit het opgekom, en gegroei, en dit het gedra: een dertig-- en een sestig-- en een honderdvoudig. |
9 | En Hy sê vir hulle: Wie ore het om te hoor, laat hom hoor. |
10 | En toe Hy alleen was, het die wat saam met die twaalf rondom Hom was, Hom na die gelykenis gevra. |
11 | En Hy sê vir hulle: Aan julle is dit gegee om die verborgenheid van die koninkryk van God te ken, maar vir hulle wat buite is, kom alles deur gelykenisse, |
12 | sodat hulle kan kyk en kyk, en nie sien nie; en hoor en hoor, en nie verstaan nie, dat hulle hul nie miskien bekeer en die sondes hulle vergewe word nie. |
13 | En Hy sê vir hulle: Begryp julle nie hierdie gelykenis nie? En hoe sal julle al die gelykenisse verstaan? |
14 | Die saaier saai die woord. |
15 | En dit is hulle wat langs die pad is -- waar die woord gesaai word, maar sodra hulle dit gehoor het, kom die Satan dadelik en neem die woord weg wat in hulle harte gesaai is. |
16 | Net so ook is hulle by wie op rotsagtige plekke gesaai word -- wat, as hulle die woord hoor, dit dadelik met blydskap aanneem, |
17 | maar geen wortel in hulleself het nie; hulle is net vir 'n tyd. Later as daar verdrukking of vervolging kom ter wille van die woord, struikel hulle dadelik. |
18 | En hulle by wie in die dorings gesaai word -- dit is hulle wat die woord hoor, |
19 | en die sorge van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom en die begeerlikhede in verband met die ander dinge kom in en verstik die woord, en dit word onvrugbaar. |
20 | En dit is hulle by wie in die goeie grond gesaai is -- hulle wat die woord hoor en aanneem en vrugte dra: een dertig-- en een sestig-- en een honderdvoudig. |
21 | En Hy het vir hulle gesê: Die lamp kom tog nie om onder die maatemmer of onder die bed gesit te word nie. Is dit nie om op die staander gesit te word nie? |
22 | Want daar is niks verborge wat nie openbaar sal word nie, en daar is niks weggesteek nie of dit moet in die lig kom. |
23 | As iemand ore het om te hoor, laat hom hoor. |
24 | En Hy het vir hulle gesê: Pas op wat julle hoor; met die maat waarmee julle meet, sal vir julle gemeet word, en daar sal bygevoeg word vir julle wat hoor. |
25 | Want wie het, vir hom sal gegee word; en wie nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het. |
26 | En Hy het gesê: So is die koninkryk van God, soos wanneer 'n mens die saad in die grond gooi; |
27 | en hy gaan slaap en staan op, nag en dag, en die saad spruit uit en word groot -- hoe, weet hy self nie. |
28 | Want vanself bring die aarde vrug voort, eers 'n halm, dan 'n aar, dan die volle koring in die aar. |
29 | En wanneer die vrug dit toelaat, steek hy die sekel dadelik in, omdat die oes daar is. |
30 | En Hy het gesê: Waarmee moet ons die koninkryk van God vergelyk, of met watter soort gelykenis moet ons dit voorstel? |
31 | Dit is soos 'n mosterdsaad, wat die kleinste is van al die soorte saad op die aarde wanneer dit in die grond gesaai is; |
32 | en wanneer dit gesaai is, kom dit op en word groter as al die groentesoorte en maak groot takke, sodat die voëls van die hemel onder sy skaduwee nes kan maak. |
33 | En met baie sulke gelykenisse het Hy die woord tot hulle gespreek volgens wat hulle kon verstaan; |
34 | en sonder gelykenis het Hy tot hulle nie gespreek nie; maar afsonderlik het Hy vir sy dissipels alles uitgelê. |
35 | En toe dit aand geword het op daardie dag, het Hy vir hulle gesê: Laat ons oorvaar na die ander kant. |
36 | En hulle het die skare verlaat en Hom, net soos Hy was, saamgeneem in die skuit; en daar was ook ander skuitjies by Hom. |
37 | En 'n groot stormwind het opgekom, en die golwe het in die skuit geslaan, sodat dit al vol wou word. |
38 | Maar Hy was agter op die skuit aan die slaap op die kussing. En hulle het Hom wakker gemaak en vir Hom gesê: Meester, gee U nie om dat ons vergaan nie? |
39 | En Hy het opgestaan en die wind bestraf en vir die see gesê: Swyg, wees stil! En die wind het gaan lê, en daar het 'n groot stilte gekom. |
40 | Toe sê Hy vir hulle: Waarom is julle so bang? Hoe het julle dan geen geloof nie? |
41 | En 'n groot vrees het hulle oorweldig, en hulle het vir mekaar gesê: Wie is Hy tog, dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam is! |