| Chapter 25 |
1 | Dit is ook spreuke van Salomo, wat die manne van Hisk¡a, die koning van Juda, versamel het. |
2 | Dit is die eer van God om 'n saak te verberg, maar die eer van konings om 'n saak na te speur. |
3 | Die hoogte van die hemele en die diepte van die aarde en die hart van die konings is ondeurgrondelik. |
4 | Verwyder jy die skuim uit die silwer, dan sal daar vir die silwersmid 'n voorwerp uitkom; |
5 | verwyder die goddelose voor die koning weg, dan sal sy troon deur geregtigheid bevestig word. |
6 | Pronk nie voor die koning nie, en staan nie op die plek van die grotes nie. |
7 | Want dit is beter dat vir jou gesê word: Kom op hierheen! -- as dat jy verneder word voor 'n edele wat jou oë gesien het. |
8 | Gaan nie haastig uit om te twis nie; anders, wat sal jy ten slotte doen as jou naaste jou in die skande steek? |
9 | Verdedig jou saak teen jou naaste, maar openbaar 'n ander se geheim nie, |
10 | sodat een wat dit hoor, jou nie beskimp en jou slegte gerug nie ophou nie. |
11 | Goue appels op versierde silwerborde, so is 'n woord op sy tyd gespreek. |
12 | 'n Wyse bestraffer by 'n oor wat luister, is 'n goue ring en 'n goue sieraad. |
13 | Soos die verkoeling van sneeu op 'n oesdag, is 'n betroubare boodskapper vir sy senders; want hy verkwik die siel van sy heer. |
14 | 'n Man wat hom beroem op 'n geskenk wat hy tog nie gee nie, is soos dampe en wind waar geen reënbui by is nie. |
15 | Deur lankmoedigheid word 'n vors oorgehaal, en 'n sagte tong verbreek die gebeente. |
16 | Het jy heuning gevind, eet tot jy genoeg het, sodat jy daar nie sat van word en dit uitspuug nie. |
17 | Sit jou voet selde in jou naaste se huis, sodat hy nie van jou genoeg kry en jou haat nie. |
18 | 'n Knopkierie en 'n swaard en 'n skerp pyl, so is 'n man wat teen sy naaste as valse getuie optree. |
19 | 'n Slegte tand en 'n voet wat swik, so is die vertroue op 'n ontroue in die dag van benoudheid. |
20 | Soos een wat 'n kleed uittrek op 'n koue dag, soos asyn op loog, so is een wat 'n bedroefde hart met liedere verwelkom. |
21 | As jou vyand honger het, gee hom brood om te eet; en as hy dors het, gee hom water om te drink. |
22 | Want jy hoop gloeiende kole op sy hoof, en die HERE sal jou dit vergelde. |
23 | Die noordewind bring 'n reënbui voort, en die tong wat agteraf praat -- kwaai gesigte. |
24 | Om te woon op die hoek van 'n dak, is beter as by 'n twisgierige vrou en 'n gemeenskaplike huis. |
25 | Koue water op 'n vermoeide siel, so is 'n goeie tyding uit 'n ver land. |
26 | 'n Troebel fontein en 'n vuile bron, so is die regverdige wat wankel voor die goddelose. |
27 | Om baie heuning te eet, is nie goed nie, maar om swaar sake na te speur, is 'n eer. |
28 | 'n Afgebreekte stad sonder muur, so is 'n man wat sy gees nie kan inhou nie. |