| Chapter 22 |
1 | 'n Naam is verkiesliker as groot rykdom, guns beter as silwer en as goud. |
2 | Rykes en armes ontmoet mekaar, die HERE het hulle almal gemaak. |
3 | 'n Skrander mens sien die onheil en verberg hom, maar die eenvoudiges gaan verder en word gestraf. |
4 | Die loon van nederigheid is die vrees van die HERE, is rykdom en eer en die lewe. |
5 | Dorings, vangnette lê op die pad van die verkeerde; hy wat sy siel wil bewaar, bly ver weg daarvandaan. |
6 | Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie. |
7 | Die ryke heers oor die armes, en hy wat leen, is 'n slaaf van die man wat uitleen. |
8 | Wie onreg saai, sal onheil maai; en die stok van sy grimmigheid sal verdwyn. |
9 | Wie vriendelik is, hy word geseën, omdat hy van sy brood aan die arme gee. |
10 | Dryf die spotter weg, dan gaan die twis weg; en die stryery en die geskimp hou op. |
11 | Hy wat reinheid van hart liefhet, wie se lippe aangenaam is -- die koning is sy vriend. |
12 | Die oë van die HERE bewaar kennis; daarom verydel Hy die woorde van die ontroue. |
13 | Die luiaard sê: Daar is 'n leeu buitekant; ek kan in die middel van die strate gedood word! |
14 | Die mond van die vreemde vroue is 'n diep kuil; hy op wie die HERE vertoornd is, sal daarin val. |
15 | As die sotheid vassit in die hart van die seun, die tugroede sal dit daaruit verwyder. |
16 | Wie die arme verdruk, bevoordeel hom; hy wat aan die ryke gee, verarm hom net. |
17 | Gee gehoor en luister na die woorde van die wyse manne, en let op my kennis. |
18 | Want dit is lieflik as jy dit in jou binneste bewaar; mag hulle tesame gereed lê op jou lippe. |
19 | Dat jou vertroue op die HERE mag wees, daarom onderwys ek jou vandag, ja, vir jou. |
20 | Het ek jou nie kernagtige spreuke voorgeskrywe met raadgewinge en kennis, |
21 | om jou bekend te maak waarheid, betroubare woorde, sodat jy woorde van waarheid kan antwoord aan die wat jou stuur nie? |
22 | Beroof die arme nie, omdat hy arm is, en verbrysel die ellendige nie in die poort nie. |
23 | Want die HERE sal hulle saak verdedig en hulle berowers van die lewe berowe. |
24 | Verkeer nie met 'n driftige man nie, en met 'n opvlieënde man moet jy nie omgaan nie, |
25 | sodat jy nie gewend raak aan sy paaie en 'n strik vir jouself span nie. |
26 | Wees nie onder die wat 'n handslag gee, onder die wat vir skulde borg staan nie. |
27 | As jy nie het om te betaal nie, waarom sal hulle jou bed onder jou uit neem? |
28 | Die ou grenslyne wat jou vaders gemaak het, moet jy nie verlê nie. |
29 | Sien jy 'n man wat vaardig is in sy werk -- hy kan voor konings staan, hy hoef nie voor geringes te staan nie. |