| Chapter 145 |
1 | 'n Loflied van Dawid. Alef. o My God, o Koning, ek wil U verhoog en u Naam loof vir ewig en altyd. |
2 | Bet. Elke dag wil ek U loof en u Naam prys vir ewig en altyd. |
3 | Gimel. Die HERE is groot en baie lofwaardig, en sy grootheid is ondeurgrondelik. |
4 | Dalet. Die een geslag prys u werke by die ander, en hulle verkondig u magtige dade. |
5 | He. Ek wil spreek van die glans van u heerlike majesteit en van u wonderbare dade. |
6 | Wau. En hulle sal spreek van die krag van u vreeslike dade, en u grootheid wil ek vertel. |
7 | Sajin. Hulle sal die gedagtenis van u grote goedheid laat uitstroom en jubel oor u geregtigheid. |
8 | Get. Genadig en barmhartig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid. |
9 | Tet. Die HERE is vir almal goed, en sy barmhartighede is oor al sy werke. |
10 | Jod. Al u werke loof U, o HERE, en u gunsgenote prys U. |
11 | Kaf. Hulle maak melding van die heerlikheid van u koninkryk en spreek van u mag, |
12 | Lamed. om aan die mensekinders sy magtige dade bekend te maak en die glansryke heerlikheid van sy koninkryk. |
13 | Mem. U koninkryk is 'n koninkryk van alle eeue, en u heerskappy duur deur al die geslagte. |
14 | Samek. Die HERE ondersteun almal wat val, en Hy rig almal op wat neergeboë is. |
15 | Ajin. Die oë van almal wag op U, en U gee hulle hul spys op die regte tyd. |
16 | Pe. U maak u hand oop en versadig alles wat lewe met welbehae. |
17 | Sade. Die HERE is regverdig in al sy weë en goedgunstig in al sy werke. |
18 | Kof. Die HERE is naby almal wat Hom aanroep, almal wat Hom aanroep in waarheid. |
19 | Resj. Hy vervul die wens van die wat Hom vrees, en Hy hoor hul hulpgeroep en verlos hulle. |
20 | Sjin. Die HERE bewaar almal wat Hom liefhet, maar Hy verdelg al die goddelose. |
21 | Tau. My mond sal die lof van die HERE uitspreek, en laat alle vlees sy heilige Naam loof vir ewig en altyd. |