| Chapter 35 |
1 | 'n Psalm van Dawid. HERE, twis met die wat met my twis; bestry die wat my bestry! |
2 | Gryp die klein skild en die grote, en staan op as my hulp! |
3 | En trek die spies uit en stuit my vervolgers! Spreek tot my siel: Ek is jou heil! |
4 | Laat hulle wat my lewe soek, beskaamd staan en in die skande kom; laat hulle wat my ongeluk beraam, agteruitwyk en rooi van skaamte word! |
5 | Laat hulle word soos kaf voor die wind, terwyl die Engel van die HERE hulle wegstoot. |
6 | Laat hulle weg duister en glibberig wees, terwyl die Engel van die HERE hulle vervolg! |
7 | Want hulle het sonder oorsaak die kuil met hul net vir my verberg, hulle het sonder oorsaak gegrawe teen my lewe. |
8 | Laat verwoesting oor hom kom sonder dat hy dit weet, en laat sy net hom vang wat hy gespan het; laat hom daarin val met verwoesting! |
9 | Maar my siel sal juig in die HERE, dit sal bly wees in sy heil. |
10 | Al my beendere sal sê: HERE, wie is soos U? U wat die ellendige red van die wat sterker is as hy; ja, die ellendige en behoeftige van sy berower! |
11 | Kwaadwillige getuies staan op; wat ek nie weet nie, vra hulle vir my. |
12 | Hulle vergeld my kwaad vir goed: verlatenheid vir my siel. |
13 | En ek -- toe hulle siek was, het ek 'n roukleed gedra; ek het my siel gekwel met vas, en my gebed het teruggekeer in my boesem. |
14 | Ek het rondgegaan asof dit 'n vriend, asof dit 'n broer van my was; ek het gebuk gegaan in die rou soos een wat oor sy moeder treur. |
15 | Maar as ek struikel, is hulle bly en kom bymekaar; hulle vergader teen my, lae mense en die wat ek nie ken nie; hulle laster sonder ophou. |
16 | Onder die roekeloosste tafelspotters kners hulle met hul tande teen my. |
17 | Here, hoe lank sal U dit aansien? Bring my siel terug van hulle verwoestinge, my enigste van die jong leeus af. |
18 | Ek sal U loof in 'n groot vergadering; onder 'n groot skare sal ek U prys. |
19 | Laat hulle oor my nie bly wees wat sonder grond my vyande is nie; laat die wat my sonder oorsaak haat, nie met die oë knip nie! |
20 | Want hulle spreek nie van vrede nie, maar hulle bedink bedrieglike woorde teen die stilles in die land. |
21 | En hulle maak hul mond wyd oop teen my, hulle sê: Ha, ha, ons oog het dit gesien! |
22 | HERE, U het dit gesien, swyg nie. Here, wees nie ver van my af nie! |
23 | Ontwaak en word wakker vir my reg; my God en Here, vir my regsaak. |
24 | Doen aan my reg na u geregtigheid, HERE my God, en laat hulle oor my nie bly wees nie! |
25 | Laat hulle in hul hart nie sê: Ha, ons begeerte! Laat hulle nie sê: Ons het hom verslind nie! |
26 | Laat hulle wat bly is oor my ongeluk, beskaamd staan en saam rooi van skaamte word; laat hulle wat hul teen my groot maak, met skaamte en skande beklee word! |
27 | Laat hulle jubel en bly wees wat 'n behae het in my geregtigheid; en laat hulle altyddeur sê: Groot is die HERE wat 'n welbehae het in die vrede van sy kneg! |
28 | En my tong sal u geregtigheid prys, u lof die hele dag deur. |