| Chapter 17 |
1 | Daarna het die HERE met Moses gespreek en gesê: |
2 | Spreek met die kinders van Israel en neem van hulle vir elke stam 'n staf, van al hulle owerstes volgens hulle stamme, twaalf stawe; elkeen se naam moet jy skrywe op sy staf. |
3 | En Aäron se naam moet jy skrywe op die staf van Levi; want een staf moet daar wees vir hulle stamhoof. |
4 | En jy moet hulle wegsit in die tent van samekoms voor die Getuienis waar Ek met julle saamkom. |
5 | En die staf van die man wat Ek uitkies, sal bloei; en Ek sal die murmureringe van die kinders van Israel wat hulle teen julle murmureer, stilmaak teenoor My. |
6 | Daarop het Moses met die kinders van Israel gespreek; en al hulle owerstes het hom 'n staf gegee, vir elke owerste een volgens hulle stamme, twaalf stawe. Aäron se staf was ook onder hulle stawe. |
7 | En Moses het die stawe voor die aangesig van die HERE in die tent van die Getuienis neergesit. |
8 | En toe Moses die volgende dag in die tent van die Getuienis ingaan, kyk, daar het die staf van Aäron, vir die huis van Levi, gebloei: dit het bloeisels laat uitspruit en blomme laat oopgaan en amandels laat ryp word! |
9 | Toe bring Moses al die stawe wat voor die aangesig van die HERE was, na al die kinders van Israel toe uit; en hulle het dit gesien en elkeen sy staf geneem. |
10 | Daarop het die HERE vir Moses gesê: Bring die staf van Aäron terug voor die Getuienis om dit te bewaar as teken vir die wederstrewiges, en bevry My eindelik van hulle murmureringe, dat hulle nie sterwe nie. |
11 | En Moses het dit gedoen; soos die HERE hom beveel het, so het hy gedoen. |
12 | Toe het die kinders van Israel met Moses gespreek en gesê: Kyk, ons sterwe, ons vergaan, ons almal vergaan! |
13 | Elkeen wat enigsins nader kom na die tabernakel van die HERE, sal sterwe. Is ons dan geheel en al daarvoor bestemd om weg te sterwe? |